Gedigte van 'n Boer
--------------------------------------------------------------------------------
Boerius: Herstel ons poorte
Mure van gister
waar vervalle steen in mank bestaan
kronieke baar van dit wat was –
...die laggies wat so skoppelmaai
om steen en klip se swye draai;
die liefde en die leed gedeel
wat smôrensmossie klank soos mos
in songebakte vensters los,
maar nou in graf se stilte sak
die swye oor geroeste dak.
So staan my volk,
ook eens gevul van vreugdeklank
waar son oor ruie berge
in ligkrans oor die wolke span
waar elk na gisters nou verlang
in soeke na Nehemia moed
om Jerusalem se poorte te herstel
op te bou
en fees tot eer van God te hou!
12 September 2012
Lokaal Gevangenis, Pretoria
Boerius: Herfstuin
Kom pluk vir my papawers uit jou Boereplaas se tuin
waar herfs se son deur skugter skadu’s geel en vrolik skyn
Dit streel oor madeliefies en dit speel deur kapperkruid
Dit bons op bittereinder roos se laaste skoonheidspr...uik.
Die vygies in die voortuin, ballerina pienk getooi
wat hartelus seisoen se draai die koue winters nooi.
Viooltjiesaad word uitgestrooi, in strykstok grond gesaai
wat selfs die wintergrou se vaal in liefdeskleur verfraai.
Krisante by die boordekant bring herfs in volle kleur
wat in die oggend koeler lug vermeng in douvars geur.
Agapanthus en vuurpyle wat met nekkies uitgestrek
die korter dag se heimwee na die lentegroei verwek.
Mag ek dan in my mens se draai as laaste blommespel
my lofsang tot die Groot Tuinier in voorwinter vertel.
26 Maart 2012
Lokaal Gevangenis, Pretoria.
Skildery deur Marinda le Grange
Digbundel van Boerius kan aanlyn bestel word digitaal en hardekopie
Hardekopie:
78 Bladsye
Prys: R120 (posgeld ingesluit)
Besonderhede vir bestellings:
E-pos dan net u kwitansie en posadres waarheen die bundel gepos moet word na:
wilhelm.pretorius@yahoo.com
Betaling kan ook plaasvind deur middel van Paypal op die volgende webwerf:
http://www.wix.com/wilhelmpretorius/gietoffers_van_my_siel
Digitale weergawe kan direk gekoop word by:
https://www.smashwords.com/books/view/130967
No comments:
Post a Comment